ALGEMENE NORME EN STANDAARDE
Die woord dissipline asook die woord “dissipel” kom van die Latynse woord discere wat “om te leer” beteken.
Dissipline beteken dus eintlik om te leer, op te lei, of af te rig. Dit behels die vorming van die kind se karakter in sy totaliteit deur goeie gedrag aan te moedig en onaanvaarbare gedrag reg te stel.
Dissipline is 'n integrale deel van die onderwyssituasie en opvoeding kan nie daarsonder plaasvind nie. Dit kan beskryf word as die gesindheid van die individu en die gemeenskap waardeur hule vrywillig sekere perke aan hulle persoonlike vryheid en die vryheid van die gemeenskap aanvaar. Dit sluit ook in die aanvaarding van die gesag wat oor hulle gestel word om die milieu waarin hulle hulself bevind (in hierdie geval die skoolmilieu) ordelik en doeltreffend te bestuur. Die leerder moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir sy/haar gedrag en vordering.
Soos ‘n goeie tuinier sy plante kunsmis en water gee, die grond om die plant gereeld losspit sodat die wortels genoeg suurstof kry, die natuurlike groei van lote terugsnoei, sodat die plant op sy mooiste kan blom en vrug dra, so is dissipline daarop gerig om die kind ten beste vir die lewe voor te berei. Om te dissiplineer, beteken om op te voed.
Vennootskap:
Dit is belangrik om heel eerste erkenning te gee aan die vennootskap wat bestaan tussen onderwysers, ouers en leerders. Die rol van die ouers en hulle verantwoordelikheid in hulle kinders se opvoeding is 'n baie belangrike faktor as ons goeie dissipline in ons skool wil hê. Ouerbetrokkenheid is dus 'n faktor wat groot prioriteit moet geniet en gedurig aangemoedig moet word. Dit is dus belangrik dat die ouers by inskrywing 'n volledige stel reëls ontvang en hulle skriftelik daarby neerlê. Ouers moet alle skrywes van die skool lees en alle afskeurstrokies teken voordat dit na die skool teruggestuur word.
Christelike lewensbeginsels
Spreuke 1:2-4 Die doel van dissipline is: “om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat. So sal hulle ‘n behoorlike opvoeding ontvang en ‘n sin vir regverdigheid, reg en billikheid leer.”
Dissipline moet daarop gerig wees om die hart van die kind te verander – nie om van hom / haar iets te maak wat hy/sy nie is nie of kan wees nie, maar om hom ‘n waardestelsel te leer, om hom wysheid te leer.
Spreuke 22:6 “Gee leiding aan ‘n jong mens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy oud is nie daarvan afwyk nie.”
Dit impliseer dat ons grense moet stel wat realisties en duidelik is.
Die digter D.J. Opperman sê tereg: “Ons stry om gister heel te maak, ons more lê onbewaak.”
Christelike norms geld in alle gevalle waar gedrag ter sprake is en daarom moet die uitgangspunt van alle gedrag goeie maniere, respek vir ander en selfrespek wees. Net soos daar van die leerders verwag word om te alle tye respek teenoor hulle maats en die personeel te betoon, so word daar ook van die onderwyser verwag om leerders met respek te behandel deur nooit kwetsende opmerkings teenoor hulle te maak nie en altyd in billikheid teenoor hulle op te tree.
Geen volwassene kan ‘n kind se “maat” wees nie (‘n oppervlakkige en onwaardige strewe om by ‘n kind populêr te wees). Hy kan in elk geval nie met die kind se maats meeding nie.
Leerders, ouers en personeel se gedrag moet nooit skade doen aan die skool se beeld nie. Trouens, die gedrag van genoemde partye moet bou aan die beeld van die skool as 'n inrigting wat gegrondves is op Christelike lewensbeginsels, wat streef na akademiese uitnemendheid en waar elke leerling die geleentheid gegun word om deur verantwoordelike volwasse leiding te groei en te ontwikkel tot volwassenes wat hulself kan handhaaf en 'n bydrae kan lewer in die samelewing. Klem moet dus gelê word op selfdissipline en positiewe eienskappe soos eerlikheid, stiptelikheid, selfwerksaamheid, getrouheid en netheid.
Waar straf toegepas word, word dit gedoen om die kind daarop te wys dat sy gedrag onaanvaarbaar is en dat dit reggestel moet word.
By Osieteddies:
- Kleuters word deur positiewe aanmoediging en beklemtoning van die korrekte, tot sosiaal aanvaarbare gedrag gelei.
- Lyfstraf word nie as ‘n aanvaarbare wyse beskou om onaanvaarbare gedrag by jong kleuters te hanteer nie. Kleuters sal, onder geen omstandighede, by die Sentrum lyfstraf ontvang nie.
- Indien gedragsprobleme wel voorkom, sal sulke probleme met die ouers bespreek word om ‘n oplossing te vind, om die kind te motiveer om op ‘n aanvaarbare wyse op te tree.