Kantoor

Me Linda Kruger
Ons Hoof
My dagtake kan ek met die vrolike kinderliedjie vergelyk… “Die dwase man bou sy huis of die sand.. Die wyse man bou sy huis op die rots!” Ek wil my pligte met die fondasie van ‘n huisie vergelyk, sodat die personeel van ons skooltjie mooi sterk mure kan bou. Ek glo dat ‘n groot mens ‘n produk is van sy skool, sy ouers en die samelewing. Om deel te kan wees van ‘n klein mensie se ontwikkeling, om seker te maak dat elke maatjie ontwikkel, gestimuleer word, veilig en gelukkig is, is my eerste prioriteit. Maar, alleen is ek nie daartoe in staat nie. ‘n Hele juffrou-span werk saam om die mure te bou. Ek is wel bevoorreg om die hoof van hierdie bouproses te wees, maar saam lees ons die bouplan en stuur ons elke kleuter die wereld uit om met baie selfvertroue en sterk fondasies die geleenthede aan te gryp. Ek dank my Hemelse Vader vir die voorreg wat ek het om elke dag ‘n verskil te maak!
Me Amanda van der Merwe
Administratiewe Klerk
Ek is Amanda van der Merwe, ek is in beheer van die finansies en die administratiewe kantoor. Ek is al 11 jaar deel van Osieteddies. Elke kleuter kruip diep in ons harte, en dis elke jaar hartseer om van ons Bere afskeid te neem, maar saam die hartseer kom die trots om te sien hoe hulle groei en hulle gesiggies verander met elke jaar wat hulle in die Laerskool is. Wanneer hulle hulle Hoërskool loopbaan begin, is dit wonderlik om te sien hoe groot hulle geword het, en te onthou “maar hy/sy” was ‘n trotse Teddie. My lekkerste oomblikke by die kleuterskool is die stories wat die kleuters vertel en al die drukkies wat ons so onvoorwaardelik kry.